Potjiekos, Potjiekos, Lekker-lekker Potjiekos

Gallery

Dis oor twee dae Gelofte dag, een van my gunsteling vakansie dae in Suid Afrika met die mooiste stories. 10 000 Zulus versus 470 Voortrekkers, dus 1 teen 21,  die 21 is hard-gesoute soldate, Dingaan was berug vir die beste weermag in die tyd. Piet Retief maak ‘n belofte aan God, God doen nog ‘n wonderwerk en die Voortrekkers verslaan die Zulus en vandag nog 173 jaar later, is dit ‘n vakansie dag hier in Suid Afrika. God beantwoord gebede, al wat ons moet doen is om te vra, en soms is dit ook teveel gevra dat ons net vir God vra waarmee ons hulp nodig het.

Dus het ek die Potjiekos resep gekies om hierdie super spesiale dag te vier. Daar is duisende variasies van Potjiekos, ek gaan ons mees gunsteling resep hier deel, maar jy is natuurlik welkom om rond te speel met jou familie se gunsteling smake.

Potjiekos is een van die geregte wat ons ge-erf het van die Voortrekkers uit die Groot Trek. Die gereg is daagliks saamgetrek en met die vars gejagte vleis opgevul, gewoonlik was dit wildsvleis (so natuurlik wil ek die vakansie ook my gunsteling wildsvleis, Vlakvark, probeer in ‘n pot) Die Voortrekkers het ook die groter bene gebruik om die potjie te verdik.

Volgens die kenners is hierdie die basiese riglyne vir Potjiekos:

  • ‘n Grote 3 pot sal groot genoeg wees vir ‘n gemiddelde familie
  • Onthou om jou pot met ‘n lagie kook olie te smeer nadat dit gewas is en stoor dit met die olie (dit voorkom roes) Jy kan ook koerant papier daarin pak saammet die olie
  • Indien jy jou potjie vir die eerste keer gebruik volg asb hierdie raad om jou potjie goed in te wy
  • Braai die vleis eerste, pak die groente in lae by (begin onder met die groente wat die langste vat om gaar te word, i.e. aartappels)
  • Die vloeistof wat bygevoeg word, moet die pot vul tot 2cm onder die laaste laag groente, die stoom maak die groente gaar
  • Die pot mag eers vir die eerste keer geroer word, net voordat die pot bedien word (indien dit gedurende die gaarmaak proses geroer word, maak jy stew)

Sampioene, Baba Aartappels en UFO’s

Skat-se-At Potjiekos

1 groot ui, grof opgesny

2 Teelepels fyn knoffel

800g “Goulash” Beesvleis

Vleis speserye, sout en peper

1 x Pak Baba Aartappels

1 x Pakkie Geel “Pattypans” of UFO’s J

1 x Pakkie Groen “Pattypans” of UFO’s

5 x Wortels, opgesny in 3cm skywe

1 x Botterskorsie opgesny in growwe stukke

1 x Blomkool

1 x Pakkie heel sampioene

250ml All Gold Tamatie Sous

500ml Coca Cola

1 x pakkie Chillie Bees Sop poeier

1. Braai die uie en knoffel tot bruin en verwyder uit die pot

2. Braai die vleis tot 80% gaar, onthou van om speserye gedurende hierdie stap oor jou vleis te gooi (indien jy nie Goulash vleis gebruik nie, maar potjie vleis kan jy Worcester sous bygooi om die vleis sag & sappig te maak)

3. Voeg die uie weer by

4. Voeg al die groente by, begin by die groente wat die langste gaan koop en eindig by die sampioene

5. Meng die Coke, Tamatie Sous en Sop poeier

6. Gooi by pot (die mengsel moet tot en met 2cm onder die boonste laag groente le)

7.Prutstadig totdat dit gaar

8. Jykanselfs een baba aartappeltjie bo-op jou laaste laag groente pak, indien hierdie aartappeltjie sag is, weet jy die pot is reg!

Bedien met rys…

4 responses »

  1. Heng maar dit lyk lekker (behalwe vir die sampioene wat ek nie eet nie). Ek het iewers ‘n stuk geskryf, meer oor die sielkunde van die pot as oor die inhoud. Ek sal maar gaan grawe en soek.

    • Hello Jan Twak

      Baie baie dankie vir jou boodskap, ek waardeer dit! Ek sal graag die stuk wil lees, indien jy dit opspoor kan jy asb dit vir my epos: nadia.events @ gmail.com

      Lekker dag en geniet die vakansie dag oormore!

      Nadia

      • Baie dankie aan Jan Twak wat hierdie verskriklike oulike storie met my gedeel het oor PotjieKos!

        VAN POTJIEKOS TOT KAROOBOSSIES

        My pa het my vroeg in my lewe al, die goue reël in die ongeskrewe reëlboek vir mans geleer; Jy mag nie jou roer (vuurwapen), kar en jou vrou uitleen nie – nooit nie. Vir geen rede nie. Die belangrikheid van die reël was natuurlik ook in daardie spesifieke volgorde. Meestal in daardie volgorde, behalwe as Ma soms by was met die les. Dan was ‘vrou’ in ‘n ereposisie voor die ‘roer’.

        Soos die jare en ondervinding meer word, skryf ek natuurlik self ‘n hele paar reëls in die ‘reëlboekie’. Skuins bokant my pa se reël het ek later geskryf:

        “Jy mag nie met ‘n ander man se potjiekos inmeng nie!”

        Die reel strek wyd. Van die voorbereidings, vleisies inlê, meel aanmaak, vuur aansteek, tot die inskep. Jou vriendskap met die potmaker is werklik van spesiale gereserveerde gahalte, as dié jou sou vra om te help om die hout of charcoal nader te dra na die vuurmaakplek toe. Dit is sovêr jy mag inmeng. Slegs met toestemming. As die vuur sukkel om te vat moet jy beleefd wegkyk en jou bek hou. Vat dit goed met die eerste slag, is ‘n klop op die skouer of gepaste aanmerking, ‘n noodsaaklikheid. Die reël oor potjiekos het natuurlik ‘n paar subartikels ook:

        Subartikel 1(a): “Jy mag nie die deksel optel nie.”

        Selfs al ruik jy iets brand, selfs al borrel pers-groen sappe oor die rant – hou jouself in! Die voorreg om die deksel te lig is geëwenaar aan die president se voorreg om ‘n nuwe wet te teken. Niemand, maar niemand anders mag dit doen nie. Net die potmaker. Jy bied ook nie aan om die deksel vas te hou terwyl buurman in sy pot krap of geheime bestandele byvoeg nie. As jou hulp benodig word, sal uitdruklik daarvoor gevra word.

        Subartikel 1(b): “Mans mag nie in die huis gaan piepie nie.”

        Om die reël neer te skryf is eintlik oorbodig. Alle mans weet dit. Dit is ingeteel oor honderde jare se kampvure, braaivleis en potmakery. Vrouens verpes dit, maar leer met die tyd dat argumente daaroor, heel moontlik in die egskeidingshof sal draai. Jy kan ‘n diamant-uitgelegde toilet langs ‘n karoobossie sit en sê “kies”. Keer op keer, sonder uitsondering, sal die diamanttoilet vlekkeloos bly skitter en die karoobos vrek.

        Ter wille van meer verdraagsaamheid – ‘n klein geheimpie oor die manlike anatomie. Na ‘n paar alkoholiese verversings is die toerusting soos ‘n brandslang aan ‘n baie sterk kraan. Rigting en afstand kan net nie meer beheer word nie. So, vrouens, wees dankbaar dat die huisgeriewe skoon en bruikbaar bly. Mans deel darem een eienskap met vrouens. Hulle gaan nie alleen nie. Kort-kort langs die vuur sal een ‘n ander nooi met “stiek jy my?” Al het jy twee minute terug jou blaas geledig; jy gaan saam. Dit is vreeslik ongeskik om so ‘n vriendskapsuitreiking van die hand te wys.

        Subartikel 1(c): “Jy moet die pot komplimenteer.”

        Van vroeg af al. Die manier waarop die vuur en die kooltjies brand; die potmaker se patent om die pot oor die vuur te hang; en natuurlik die gehalte en tekstuur van sy ingevoerde Zimbabwese swartpot self. Laaste, dog heel belangrikste, die komplimente aan tafel oor die inhoud van die pot. Jarelange vriendskappe tussen mans het al baie skielike, brutale, fisiese eindes gehad oor verkeerde opmerkings.

        ‘Lekker’ is nie ‘n kompliment nie. As jy nie weet hoe nie, raadpleeg jou HAT vir ‘n lang reeks byvoeglike naamwoorde wat jy kan memoriseer vir die groot geleentheid. Smaaklik, geurig, pikant, uistsonderlik, onverbeterlik, koningskos, sappig, beter-as-brannewyn, ens, is baie goeie woordkeuses. Soos met ‘n eerste ‘date’ is dit ook baie belangrik om die gasheer die volgende oggend te bel en van die komplimente te herhaal. Deur ‘n potjiekosgeleentheid reg te hanteer bou mens vriendskappe vir die lewe. Enige van my pot-bouer-broers, sal my in die middel van die nag kom insleep as ek karmoeilikheid het – enige plek in Afrika.

        Die heel lekkerste deel van jou eie pot is natuurlik die oorskiet wat oorbly vir die volgende dag. Die sousies en geure trek wonderbaarlik oornag in elke atoom van die potmengsel in. Die oorblywende kos word dik, geurig en smaaklik. Op ‘n manier selfs lekkerder as die oorspronklike maaltyd.

        So begin ek die Maandagoggend tien-uur fantaseer oor die oorskietpot van Sondagmiddag. My maag grom en my kop het wilde beelde van souskluitjies, aartappels en skaapnek. Alles saamgevoeg in ‘n donker, bruin-amper-swart dik ‘gravy’. Ek werk my self op tot ‘n staat van euforie en probeer my peanut-butter-en-stroop toebroodjie vir die kantoorkat voer. Twaalf-uur kan ek nie meer hou nie en deel my sekretaresse mee dat ek ‘n kliënt in die ‘veld’ gaan sien. Ek mag nie gesteur word nie, my selfoon gaan af wees.

        Die pad na my huis is lank en die beelde van kos in my kop word al wilder en het nou ook geur by. Ek val-hardloop by die huis in en kom uitasem in die kombuis aan. ‘n Gevoel van paniek gryp my kraag. Die swartpot is nêrens te sien nie. Vervaard begin ek tupperware bakkies in die yskas oopmaak. Vier maande oue fetakaas, eergister se bobotie, ‘n halfgekoude vienna – geen pot! Ek loer deur die kombuisvenster na die agterplaas. Sienna is besig om die swartpot te skrop met groenseep en staalwol. Die fantasiebeelde in my kop oor kos verander in vuurpeletons en martelkampe. Ek weet dat ek nie die moed het om enige verduidelikings in gebroke Afrikaans-Zoeloe aan te hoor nie en ek bel vir Mamma.

        Miskien sou die Afrikaans-Zoeloe beter op die oor geval het. In stammelende Afrikaans na my “WAAR IS MY POT!” verduidelik Mamma dat sy wel die oorskiet aan Sienna gegee het, saam met die opdrag om die pot skoon te maak. Na vyf maande se professionele huweliksberading skryf ek in my reëlboekie:

        Subartikel 1(d): “Jy mag nie jou man se oorskiet pot weggee nie!”

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s